Ding moet vlieg

Vrouedag sorg vir n langnaweek en ons sit af Mosselbaai toe! Man, en was ons besig. Ons is strand toe (ek en Barbs het wraggies n ligte tan opgedoen), ons het met St Blaize trail berglangs gestap en verder deur heelwat restaurante, glase wyn op die dek, kuiers saam met familie en vriende gewerk. Ons het kaart gespeel, bord games kaf gedraf, ontbyte met n view geniet en vroeë birthday koek geëet op Barbs. Dan praat ons nie eens van die sonsopkomste en -ondergange, die walvis in die baai en die dolfyne in die branders nie. En in die bondel is onse Ding ook in.

Op die vliegtuig onder in die ruim met n lyf vol Rescue-pilletjies, is Ding ook daar! Toe ons op George lughawe aankom vanmiddag, is dit dieselfde roetine:

Dingetjie is in haar hokkie en word geweeg. Ek gaan betaal haar vlugkaartjie (R240….😂) waarna ons agter toe stap, ek haar uittel en hulle haar hokkie scan. Ek sit haar weer terug en oorhandig haar aan die vriendelike oom om haar vliegtuig toe te neem. Toe stap ek ook deur en wag in die ry om aan boord te gaan.

Intussen het ek heelwat bekendes raakgeloop op die lughawe, waaronder Anli Meintjies. Sy wag ook om aan boord te stap toe sy skielik na my toe kom, buitentoe wys en sê: daar is jou hondjie! Ek sien gereeld hoe hulle vir Dingetjje in haar hokkie vliegtuig toe vat en ek kyk waar sy wys. Ek sien niks tot sy vir my half dringend sê: dáár! Ek sweer ek dag ek hallusineer… daar hol onse Ding oor die blad voor die vliegtuig verby! Ek spring onmiddellik weg en gil: Dis my hond daai, wag ek kom! By al die passasiers verby. Maar met dié spring die een of ander Piet ook weg en begin vir Ding agternasit! Natuurlik reken sy toe sy moet wegkom van hierdie man met die geel jassie en sy laat spaander toe al wat sy kan runway se kant toe is. Teen hierdie tyd is ek al uit by die deur en skiet oor die vlak terwyl ek gil: Moenie haar jaag nie! Dingetjie, Mammie kom!

Uiteindelik kom sy tot stilstand en ek moes mooipraat om haar te oorreed ek is ek. Die arme ding was omtrent vervaard!

Van oorkant af kom daar toe n antie aangehol in n wapperende romp, hakskoene en Ding se hokkie in die hand.

Onse baby is toe weer terug in haar hok nadat ek haar moes troos en paai en mooipraat – en doodseker gemaak daai hok se deur is hierdie keer behoorlik toe.

Dit alles speel toe af ten aanskoue en tot vermaak van n saal vol passasiers wat gereed is om die vliegtuig te bestyg.

n Paar het hande geklap toe ek verwaaid terugkom in die vertreksaal en ander het n geruime tyd daarna nog n glimlag op die gesig gehad wanneer hulle my oog vang. So is Dingetjie van Heerden toe terug Johannesburg toe.

Ek moet bieg, ek het die hele vlug deur gewonder of sy nie dalk onder in die ruim rondhol nie…

PS: my id-kaart en instapkaart was vir n wyle soek toe ek terug is na die opwinding. Maar dié vind ek toe ongedeerd in my bra. So gepas vir Vrouedag…

©️marikavanheerden

.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s