Die kringloop van eenvoud

Twee maande gelede het die gronddam agter my huis op die plaas nog n lekker klompie water ingehad. Genoeg vir die skaap om sku-sku nader te kom en hulle dors te kom les. Terwyl ek roerloos met die kamera gesit het en terwyl die bontkiewiet soos n mal ding gegil en skree het. Tot die kelkiewyn het verergd opgevlieg en elders rus gaan soek.

Vanoggend stap ek voor sonop met n beker koffie en n hoopvolle hart dam toe. Hy is leeg. Die water is opgesuip en dit wat nie opgesuip is nie het weggesink of het in die hitte verdamp. Tog is dit wat oorgebly het van die blinknat waterbad,  gerusstellend bekend. n Prentjiemooi gekraakte modderbodem. Dis amper asof die dam n mat oor sy damvloer oopgestrek en uitgerol het. n Mat met wonderlike patrone wat fassineer en verras. Maar dis net beskore vir dié wat tyd neem om naby te kyk en die oë tydsaam toe te laat om die intriges in die moddermat te bespeur en te bespied.

Dit herinner my aan my kindertjies so 10 jaar gelede. Twee kleuterlyfies wat met kniekoppe langs die ore gehurk  in die droeë dam op sy modderkaros gesit het.  So het hulle lang minute gesit en na die patrone in die nat klei gestaar. Soekend na mikropaddatjies wat onder die klei te voorskyn mog kom en in afwagting op ander verrassings. Soos n dapper bossie wat sy groen mossieneskoppie  deur die modder gedruk het en nou manhaftig son toe beur. Of n skaap se spoor wat vertel hoe hy gly-gly na die middel van die dam toe is om die laaste lekseltjie water te kry. Heerlike stories, patrone en ontdekkings in die nadraai van die reënseisoen.

Vanoggend het ek dit alles weer gesien en beleef. Hierdie keer ook saam met n paar ander meevallers.  n Kankerbos se saadhuisie wat in n modderskeurtjie asemskep voordat die wind hom verder aanjaag na n staning waar hy  kan wortel skiet. En hy uiteindelik uit die dood kan opstaan. Ek sien ook tussen die skaapspore n groter vreemde spoor in die modder. Dis dié van n ongedierte wat kom voordeel trek het uit die draai van die seisoen.

Vanoggend was dit doodstil in die dam. Nie n kiewiet of n korhaan of n kelkiewyn in sig nie. Dis net die eenvoud van die patroonmodder en die hope skatte wat hy binne-in hom hou. Skatte wat mens hopelik sal laat sien hoe groot jy nou regtig is. Skatte wat mens noop om n karos van nederigheid om jou kaal skouers van waan te vou.

Want op die damvloer se mat speel n eenvoudige realiteit hom af: na die lewe kom die dood, kom die lewe, kom die dood… Ad infinitum.

©️marikavanheerden

B9A362CD-90C8-4342-9BD7-290FB88BF21A.jpeg

 

Advertisements

2 thoughts on “Die kringloop van eenvoud

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s