Suurstof

Snork is n ding. Ek het nog nie heeltemal n antwoord of n oplossing nie, maar dis n hengse ding!

Ek is vanoggend gou in vir n finale prosedure(tjie) en toe ek uit teater kom, seer en lus vir slaap, word ek in die saal begroet deur n aggressiewe harde gesnork van agter die gordyn langs my. Lastig. Slorderig. Luid.

So daar lê ek, wetend dat die arme vrou dit nie kan help nie en dat sy, volgens n veilige raaiskoot baie sieker is as ek. So ek gaan dit moet sluk vandag. Maar o wee, die geknater, gebrul en wat klink na doodsnikke, is onrusbarend om die minste te sê. Met die klem op rus.
Ek oordeel nie, ek hoor by Jan ek is deesdae self lid van die snorkerkorps.

My default-hantering van sulke ongemaklike situasies? Humor. En in die doodsnikke van narkose voor dit my lyf verlaat, maak ek grootoog vir die suster toe die skote langs my klap. Toe ek met die volgende dawerende uitlaat my gat af skrik, moet die verpleegsters hulle lag en hulle ‚pose‘ met mening hou. Plaas ek my grappies toe vir myself hou, want daar maak ek toe kennelik n grote fout: Toe buurvrou met n derde aanval kom wat klink of ek met klippe bestook word, sê ek laggend vir die suster: ek sal die suurstof moet toedraai…

Kyk, die diep slapende kanon is meteens wawyd wakker en laat hoor toe duidelik van haar van agter die gordyn:
Ek weet ek snork! Ek kan dit nie help nie! Ek kom uit teater en jou grappie oor die suurstof in n hospitaal is ongevraagd.
Hey! sê ek, skuus man! Ek weet jy kan dit nie help nie, ek snork (glo!) self. Maar kom ons lag bietjie! Hierdie ou plek is treurig genoeg dat mens mos maar so bietjie die swarigheid kan lig!
En net terloops, ek kom ook pas uit teater.

Die volgende oomblik verskyn haar geblomde
vriendin by my voetenent. Soos een wat uit die mis verrys, kom sy agter die gordyn uit: Ag verskoon tog, haar gesnork is onwillekeurig en sy is baie sensitief daaroor. Reken sy. En watse operasie het jy anyway gehad? Teen dié tyd is die narkose amper uitgewerk en al kan ek nie regop kom nie, weet ek om daai laaste vraag te ignoreer. Dit voel vir my as ek hom beantwoord, stuur ons af op n stryd vir die reg om inkonsidererend te wees.

Na wat voel soos n kwarteeu van oorlog, daag buurvrou se ondersteuningsnetwerk op. Tegnologies belaai. En Blom beantwoord die een na die ander oproep en praat in verkleinwoordjies terwyl Sussie die mobiele wi-fi se wagwoord vir Pa lees en die skote agter die gordyn voortklap. Geen rus vir n pasiënt nie – wel, beslis nie vir onsensitiewe grapjasse nie.

Net toe ek regtig bekommerd raak oor die vrou se suurstofinname (regtig, no jokes), daag haar dokter op en beveel die susters om haar in die suurstofeenheid te kry. Hiperbariese eenheid toe met haar. My besorgdheid is nou enersyds bevestig, maar my grappie van vroeër is andersyds nog meer onvanpas.
Ek raak gatvol want dis al namiddag en ek het nog nie kos gekry nie. En ek wil huis toe gaan. En badkamer toe, maar Familielid staan in die badkamer agter n toe deur en veg met die mediese fonds. Sy eie hospitaalkantoortjie. Knus. En as hy daar uitkom, stu hy stomend verby my bed met n rooi gesig want Mediese Fonds vra n bybetaling vir die suurstoftenk.

Teen vieruur begin ek op n leë maag my klere aantrek om vir my by die kafeteria n broodjie te loop koop, sodat die susters volgens die dokter se opdrag kan sien ek raak nie naar nie en ek kap nie om nie. Terwyl ek dikbek by die saal uitstap, kom ek tot die slotsom:

Niemand kan help as hy snork nie. Niemand doen dit met opset nie.
Maar as jy so sensitief daaroor is soos wat jy beweer, dan eien jy dit nie as jou reg toe nie.
As jy egter aandring daarop dat dit jou reg is, laat jy dit nie ten koste van ander geld nie en dan het jy allermins n uitdagende houding daaroor.
As jou familie en vriende nie jou medepasiënte in ag neem nie, steek jy n stokkie daarvoor.
So, ek verander my antwoord op Jaco Muller se vraag of selfbehepte mense eenvoudig nie bewus is van hulle selfsug nie, van nee na ja. Ja, hulle is bewus van hulle eiegeregtigheid. Maar hulle regverdig dit met n nare gesindheid, n arrogante houding, en n eng uitkyk.
Punt.
Of wag, hier is n PS:
My suurstofgrappie was onsensitief, ek trek dit terug….

Advertisements

Amperreën in die Boesmanland

Gisternag het Thor die lugruim ingevaar en n tirade in die hemele gevoer. Hy het gebulder en sy hammer woes geslaan, sodat hemel en aarde kon hoor in afwagting op n soete uitkoms.
Die wind het nie op hom laat wag nie en vinnig ingeval by Thor. Die twee was soos olie op die vuur en gou het hulle meegevoer geraak in n spel van lig, kleur en klank. n Oorverdowende spel waartydens die olienhoutbome in die voortuin laag moes buig of  bars. Die windpompe het so vinnig gedraai dat hulle shwiep-shwiep stil geraak het. Blare, vere, stof en sand is aangejaag deur die twee pretmakers, wat ongedagtig aan die intimiderende effek van hul opvoering gespeel het.
Gou het hulle grou en grys wolke aangejaag. Dié het bo-oor die plaas kom hang en die belofte in hul belaaide lywe was opmerklik.
So het hulle swaar gelê en wag om nie voortgestu te word deur die twee passievolle kragte nie. Hulle het gewag op die bevel van die reënkoningin, waarsonder hulle nie hul vrag mog uitgiet nie.
Ek vermoed die bepalende oomblik was toe Thor in sy euforie die ysterklipkoppie met sy hammer n gevoelige slag toegedien het en helder blitse teen duiselingwekkende spoed oor die aarde geskiet het. Hierdie geesdrif was net te veel vir die reënkoninging, soos wat dikwels die geval is wanneer passie met aggressie verwar word.
Gevolglik het sy die wolke aangesê om hul ankers te lig. Maar eers het sy sagkens 2mm water oor die werf gestrooi en vir my gefluister dat sy jammer is oor die weinigheid, want sy ken my versugting. Toe het sy haar nie langer teen Thor en sy windmaat verset nie en in die stroom van hulle asems, suidwaarts gedryf.
Ek vermoed dat Moeder Aarde vanoggend n appel met Thor in kamers te skil het. Een waar hy n les kry in finesse.
©️marikavanheerden

Loop jou loop

Vandag is my kankerbehandeling na 18 maande eindelik voltooi en ek is anderkant uit. Dit was n amazing journey. Regtig. Sal ek hom weer loop om dieselfde groei te groei?  Nee. Maar hy het op my bord geland en ek kon emosioneel sy slagoffer raak, of nie. Ek het nie. Ek het my staan gestaan en nou loop ek my loop. Want dis hoe dit is.

Vir elke mens wat hierdie pad stap, chemo kry, weet wat Red Devil is en hoe hy met jou maak, onder die mes land en verinneweer word, bestraal word dat die velle waai en daarna elke liewe dag herinner word dat jy moet ligloop, vir jou wil ek sê:
Jy het nie n waarborg nie, maar jy het wel vandag.
Shed the shit – travel light.
Moenie na strooihalms gryp nie, kyk die monster in die oë.
Moenie te hard veg nie, journey eerder.
Wees braaf. Baie.
Bly getrou aan jouself.
Help ander.
Moet nooit toelaat dat iemand jou jammer kry nie.
Waardeer mense se pogings – hulle weet ook maar nie altyd hoe nie.
Maak seker dat n diepe dankbaarheid deel is van jou fondasie, want uit dankbare grond ontkiem sade wat groei tot lieflikhede.
Koester die mense wat jou belange op die hart dra. Return the favour.
Vergewe dies wat nie enduit kon saamstap nie.
Loop in jou eie waarheid met jou kop omhoog.
Leer dat daar inherent absoluut niks verkeerd is met jou nie.

En laastens, in Dan Brown se woorde:
The only way to triumph over death, is to have a masterpiece of a life!

(PS: My kaartjies is bespreek. Ek vlieg 7 Oktober om Everest base camp te loop klim. Vatso katvis!)

Skets: Jancke Geyer. Jancke het my journey gevolg en die skets is deel van haar matriek kunswerk. Dis kolletjies wat met n 0.05 dikte pen gedoen is. Dis my gesig binne n kankersel

©️marikavanheerden

 

8CAE69F3-958E-4C2C-8B26-274D382C1596.jpeg

DENZEL

Ek het deernis met nood. Enige nood. Nood maak mense weerloos.  En dis veral oumense en kinders wat so verskriklik weerloos kan wees. 

Ons stop die Sondag by die Spar in Douglas. Dis vroegoggend en die dorp is nog stil. Sy bedelaars ook. Ons is op pad plaas toe en ons kry gou n paar kruideniersware.  Ek stuur n laaste paar sms’se en eposse en loer vir oulaas op Facebook voor ons die verlatenheid ingaan.

Dingetjie en Blapsie, ons brakkies, wag in die kar in Spar se parkeerarea. Ek gaan kyk kort-kort of hulle oukei is. So kom ek weer n slag uit en sien die straatkind wat langs die kar op die randsteentjie sit. Ek ignoreer hom. 

Dingetjie begin blaf vir my en ek begin n speletjie. Dan klop-klop ek aan die voorruit en sy storm blaffend vorentoe. Nes sy my sien, gaan klop ek agter en sy laat spaander agtertoe. Heen en weer, keer op keer. My oog vang die jong kind op die randsteen. Sowaar, hy lag te lekker vir die lawwe brak! Daar’s lewe in die mannetjie se manier wat ek selde in die dooie, honger, desperate oë van straatkinders sien.

Ek haal die brakkie uit die kar en gaan sit langs hom op die randsteen. “Wil jy haar vryf?”, vra ek. Dalk kan die kind bietjie troos, of warmte, of watookal goeds ervaar as hy die  hondjie voel.

“Sal hy my nie byt nie?”, vra hy en steek sy hand huiwerig uit. Vuil hand.  “Nee. Jy kan maar vryf”, en ek sien iets in die ogies wat my deernis-deure wawyd oopgooi! 

Na jare, (en my  jare as maatskaplike werker het gehelp), weet ek dat as deernis nie realiteit se hand vat nie, is dit n bols-up! n Emosionele-jammer-vir-en-uiteindelike-terleurstelling-in die-mensdom-bols-up.  So, ‘lets be real’: ek gaan niemand kan red nie en die kind gaan nie na n sedeles luister nie, want hy is honger. Maar sy ogies flikker. Hy maak kontak met wat om hom gebeur.  Toe  reik ek uit: 

“Waar slaap jy saans?”

“Byrie Caltex”

“Waar is jou ma en pa?”

“Hulle bly ver ” en hy sê n naam wat ek nie mooi hoor nie.

“So hoe kom jy toe in Douglas?”

“Saam my ouma”

“Waar bly sy ”

“0ppie plaas”

“Hoekom bly jy nie by haar nie?”

“Daar issie kossie” 

En al die pad vryf hy vir Dingetjie.

“Snuif jy gom?”

“Nee mavrou” , maar ek weet dit reeds, want ek sien sy ogies is nie gomogies nie. En hy spreek my die eerste keer aan. “Ek wil dat jy goed is vir jouself. Nie vir ander nie, eers vir jou. Weet jy hoe, vra ek.  Kom ek sê jou:

“Maak elke dag slim besluite wat goed is vir jou. Elke dag. Sien jy hoe lyk die mense wat drink en snuif? Sleg man! Hulle is kwaad, simpel, bakleierig. Hulle is nie goed vir hulleself nie. Jy moet goed wees vir jouself”.

Hy sit en kyk my aan, en ek verbeel my hy luister, hy luister met iets soos verwondering op sy gesiggie. Sy glimlag is so breed, dat ek wens ek die outjie by n ortodontis  kon uitkry.

“Weet jy hoe nog moet jy goed wees vir jouself?” “Nee mavrou”. Tweede keer aangespreek. “Jy sê dankie! Vir als wat jy het, wat jy kry en oor jy jy is! Sommer in die oggend as jy by die Caltex wakker word, sê jy eerste dankie dat jy wakker is en lewe! Want dankie-leef is die saadjie waaruit allerhande lekkertes eendag groei”.

Sy mond hang oop en hy vryf vir Dingetjie soos sy nie vryf ken nie! En ek, ek kan nie glo watter kind hier langs my sit nie! Want hier is konneksie. Nie die verwyderde veraf leef soos ek straatkinders ken nie.

Ek gee hom n paar rand (eintlik heelwat) en vra: “Wat’s jou naam?”. “Denzel”, sê hy. “Maar my!”gil ek. “Dan gaan jy mos eendag n bekende man raak! Ken jy vir Denzel Washington, die akteur oorsee?” Sy glimlag is nou amper rondom sy kop en hy sê, nee hy ken hom nie, maar…. Maar ek val hom in die rede en ek vertel hom van Denzel Washington. 

“Mavrou, mavrou”, daar’s sterre in sy oë en n dringendheid. “Mavrou, my van is Washington, mavrou!”

Toe ons ry, staan Denzel Washington van Douglas in die Noordkaap regop op die sypaadjie en waai. Oopmond. “Mavrou moet n lekker dag hê, Mavrou!” Die laaste wat ek hoor is: “Dankie Mavrou! Dankie!

Mag dit goed gaan met onse Denzel. In oorvloed goed.

©️marikavanheerden

994D50A7-AB90-48B4-BCD0-36A7D83E2F9D.jpeg

Garies

Ons besoek aan Garies was goed. Ruimhartige mense. Mense met hul eiesoortige maniere en dan boonop n gasvryheid by Sophia Gastehuis wat jy nêrens kry nie.

Ons optrede het goed gegaan en die gehoor was wonderlik! Die Nieuwoudts in die voorste ry het hulleself weer oortref op die meelewing-front… Man, die een huil harder as die ander en as ek meen ek gaan  nou net op die mense in die agterste gestoeltes fokus om darem self onder beheer te kan kom, gee die kleinsus hier voor so n harde snuif dat almal van vooraf aan’t grens gaan . Ek in kluis.

Soos altyd is dit die mense wat my verras en met hulle lieflikheid in my lyf bly vassteek. Mense soos Jampie ( gaan lees oor hom op my blog – https://doldaisy.wordpress.com/2018/08/05/jampie/  ) wie ek loop opsoek het en hom toe welliswaar op sy pos voor die OK gekry het. Hy wou net R1 hê vir n êntjie. Toe gee ek hom maar 4. Ou Jampie.

En hierdie slag ontmoet ek ook vir Atta Trooi. Sy is 82 jaar oud en sy het ook ons optrede kom bywoon. Toe ek ten einde laaste op pad is, sit sy buite op die kerksaal se stoep. Sy sien ons en sê vir my: Ek wil al daar binne vir jou gesing het maar jy’t nie vir my kans gegee nie! Net daar besluit ek maar dan is nou so goed soos enige ander tyd en ek sê Atta Trooi moet gooi.

Sy haal n klein rooi boekie uit, slaan hom oop en ek dag sy gaan vir my ietsie lees. Nee, roep sy, sy gaan vir my sing. Teen dié tyd het ek al my foon vir Mariette gegee en gesê sy moet n video neem van wat nou gaan kom. Met haar voorvinger eers teen my bors begin Atta Trooi sing. In n suiwer stem trek sy weg met: Jy voel verseker dat Jesus leef. Noot vir noot sing sy dit vir my en ek is so oorblyf dat ek spartel met my emosies! Toe sy die laaste sin sing druk sy met die voorvingertjie op my bors, so of sy sê: vir jóú.

Atta Trooi meen haar sang is n godgegewe talent en daarom sal sy aanhou sing tot haar dood. Ek is nederig dankbaar daar weg. Want Atta Trooi se generasie raak uitgedun en ek was bevoorreg om in ietsie van haar rykdom te mog deel. Ek is vanoggend uit Garies n voller mens as toe ek daar aangekom het. Dankie. Al klink dit yl.

©️marikavanheerden

0956E8FD-3BF1-46E5-85EC-223186A87CAB

Reykjavik

Ek hou van Reikjavik. Baie. Die huisies is knus en popmooi. Die mense praat n taal wat na n gebrabbel klink en tog aan iets van Afrikaans herinner. OK, soms.

Die plek doen sy reputasie as duurste stad in die wêreld gestand.  Dis n jongmensstad dink ek! Ekt nog nie een oumens gesien nie. Baie baie laggende, geselsende jongmense. En Klein kindertjies wat soos doorstop-poppies saam met hulle ouers deur die koue stap soos wat ek deur Cresta stroll in n tank top. Onversteurd.

Die landskap buite die stad (ons ry vandag Oos Vik toe) is tipiese Arktiese landskap. Dis basies mos en ligene op vulkaniese klip. Amazing en soos Hermien Venter sê: It does not consider humans – no apologies. En dis presies wat dit is. Lieflik. Ek begin sterk saamglo dat die trolls en elves beslis hieruit kom. En o, n vulkaniese karakterklip sal sy weg vind tot in SA.

Vandag vat ons die pad en gaan soek kraters, geysirs, tektoniese plate et al. Terwyl ons baaaaaie warm aantrek vir die verwagte 2 grade maksimum in reën. Dan lag ek ruimskoots want my wyse skoonma het my geleer van n ander manier van vry wees:  you live with the elements! Tot later.

A8AF9993-F04B-443E-A730-551F1A6FA72A

 

Labarint

Die naweke op die plaas in die Boesmanland is bedoel om mens die geleentheid te gee om diep te mag asemskep. n Geleentheid vir konneksie. Met jouself, of met wie en hoe ook al jy nodig ag.  Sodat jy vars lug kan kry wat tot tussen jou blaaie insak en jy opnuut sal kennis maak met jou eie dieptes. 

Ingènu noem ek dit, want dis die Frans (so-ewe!) vir onopgesmuk, ongekunsteld, eenvoudig. Nes ek van die lewe en van mense hou. 

Met die voorbereidings vir hierdie naweke, kom die idee van n labarint oor my pad en daarmee saam ook my vriendin Sonja. Sy het al n mooie labarint in haar tuin gebou en soos dit moet wees, klim sy saam in plaas toe. Sy bereken en beplan vir my n labarint tot op die laaste sentimeter. 

Bollie, my getroue werker ry ysterklip uit die veld uit aan en ek begin die labarint bou, klip vir klip. Een vir een loop haal ek klip en pak elkeen op sy plek. Ek begin later soos Klara Viljee voel wat n duin geskuif het. Graaf vir graaf. Klip vir klip. Spesifiek, pedanties, presies. Tot op die fynste sentimeter pak ek my kliplaste neer onder skroeiende son op n warm Afrika stuk grond. Terwyl my hare soos gras in die son brand en my vel in leer verander, pak ek n klippad en dryf die nonsens  uit my lyf. Elke klip loop lê die ontheemdheid in my binnewaters dood. Totdat  die binne-ek begin opstaan. Klip vir klip kom n wete en n visie. My labarint stoot vars lug tot onder in my longe.

 Toe hy klaar is, stap ek hom. In stilte en gefokus. Die simboliek van sy klipgange wat in draaie loop tot by die middelpunt, anker hom in n wete dat die lewe sy loop sal neem en dat daar nêrens op sy pad ruimte is vir oordeel en vir vergelyking nie. Dat jy by die kern sal uitkom as jy aanhou stap, al lei die pad jou soms eers weg voor hy jou weer nader bring. En dat elkeen die ruimte mag hê om in die gange van die lewe  te stap, dwaal en dans. Sonder voorskrif en sonder oordeel. 

Dit heet grasie. Mag jy ook ruimskoots daarvan smaak. 

Maria Opraap

Sy is doodarm, ontbeer en verwese. Die uitdrukking op haar gesig is dié van een wat verslaan is. Haar sinkie staan in die skreiende son op n stukkie vlakte langs die pad soos mens Vanwyksvlei inry van Copperton se kant af.

My aandag word getrek deur n paar perde wat by n sementstruktuur staan. Daar sit ook n seun op die muurtjie  met n rooi plastiek kannetjie. Hy tap water, want dis n waterpunt. Maar daar is nie n kraan nie, net n pypie wat n pisstraaltjie water uitstoot. En sy staan geduldig haar beurt en afwag met twee leë plastiek melkbottels.

Hello, sê ek.

Middag Mevrou, sê sy eerbiedig met moeë oë.

Is dit julle enigste water hierdie, vra ek  ongelowig.

Dit is ja.

Vir drink en was? 

Ja-a.

Lyf was, klere was, jou huis was?

Dis al water vir ons ja, sê sy en sy kyk ver sonder dat sy sien.

Dis darem nie reg nie, sê ek ergerlik. Magtag man, dis n verdomde skande! So skreiend soos hierdie bleddie son. Ek bedwing my verviestheid.

Dis swaar hier, né sê ek vir haar, en ek voel hoe die magteloosheid in my opstoot.  Sy kyk vir my, kyk af en sê: Ja dis swaar. Dis dié lat ek nie vir die AMC gaan stem nie, die AMC sorg nie vir mens nie. Ek glimlag oor die M. Ek wil desperaat hê hierdie vrou moet ook glimlag, net n klein bietjie beter voel, al is dit net vir nou.

Jy het n mooi gesig. Ek bedoel dit. Wat is jou naam? Sy glimlag effens. Ek is Maria Opraap. Toe trou ek met n Tieties, maar my ma en pa was Opraap. Ek is n Opraap.

Mag ek n foto van jou neem, Maria Opraap? Van jou mooi gesig? Sy glimlag en ek neem die foto. Hoe oud is jy? Ek is 59 mevrou. Ek maak 60 hierdie jaar. Sy lyk 70.

Die kind se houertjie is amper vol en sy gee n tree nader. Mooi trap om nie in die modder te trap nie. Die waterpyp het gate in en die water spuit op die grond uit. Toe sê sy: As dit so swaar gaan verlang ek so na my ma en pa. Hulle lê doer in die kerkhof. Dan loop sit ek by hulle en praat, maar ek sal hulle nooit weer sien nie. Nooit nie. Ai, ek verlang so na hulle.

Die verslaentheid in haar oë sal my bybly tot aan die einde van my dae. Toe ek ry, stop ek vir haar n paar rand in die hand.  Sy is dankbaar. Baie. Sy gaan n braaisakkie koop, sê sy. Dis n klein pakkie hoender. Toe groet ons.

n Week later,  toe ek terug ry Johannesburg toe, huil ek my hart leeg  oor Maria Opraap se swaar. En oor ek weet hoe die versugting na n vangnet mens bloots kan ry.

Ek sal jou weer kom soek Maria Opraap. Jy moet mooiloop.

©️marikavanheerden

EF9FDBD6-A909-4269-A697-95D5F6A98840

Ritme

Hoe maak jy as jy kort voor Kersfees (or for that matter op enige ander tyd!) bittere nuus kry?
Hoe maak jy as niemand anders as jyself jou deur die skok en die ongemak van sulke nuus kan kry nie?
In 2018 het ek opnuut bewus geraak van die mens se veerkragtigheid en sy vermoë om terug te bons.

Sien, die groot ding is die ding van forseer. Dis n tema wat deurlopend by my aangedoen het deur die loop van die pas afgelope jaar. As daar nou een ding is wat ek weet so op die stertend van hierdie jaar, is dit dat mens nie moet forseer nie.

Einstein het gesê: Peace cannot be kept by force. It can only be achieved by understanding. Dis eintlik so logies! Hoe wil jy nou in vrede met jouself, jou buurman, jou naaste, jou wederhelf of jou skoonma leef as daar nie begrip is nie. Dis as jy vreedsaamheid probeer forseer dat jy Prozac in die kalkoen stop met die hoop dat almal om die krismistafel sal chill!

In die heilige geskrifte lees mens dikwels mooi poëtiese beskrywings raak. In Mattheus in die Message word verwys na die ‘unforced rhythm of grace’.
Ongeforseerde ritme. In 2018 beleef ek dit opnuut. Die lewe het n spontane ritme wat, wanneer jy daarby inval, jy n dieper vrede, berusting en aanvaarding ervaar. Daarmee saam ervaar mens innerlike beheer. Ten spyte van wat om jou woed.

My vertrekpunt om in 2018 met n lyf vol slegte nuus in pas te kom met hierdie ritme was om te weet en te aanvaar dat dit wat is, is wat dit is. It is what it is, darling! Realisties, eerlik en tromp-op. Watookal dit is, dit is wat dit is. As jy in pas is met n groter ritme, weet jy wanneer om te veg en wanneer om eerder te journey. Jy leer fyner kyk, ervaar en onderskei. Jy leer nader kyk en luister. Jy leer om te berus sonder om in te gee of oor te gee. Jy weet wat jy weet en jy loop jou pad. In pas met die groter ritme.

Daarom groet ek 2018 en ek stap uit hom uit met my kop omhoog. Hy het my uitgedaag en ek het my staan gestaan. Op die ritme van sy gang het ek beweeg. Soos soveel ander dapper mans en vrouens wat ek hierdie jaar sien staan en saamstap het. Vir hulle buig ek eerbiedig. They are admirable!

Ek wens vir jou n groot jaar toe. Afgesien van wat om jou mag woed.
Mag jy die groter ritme agterkom en op sy maat inval op jou pad deur 2019.
En mag jy werklik omgee. Uit jou hart uit.
Mooi loop!

©️marikavanheerden

Su-zin van Seepunt

So twee jaar gelede is ons een oggend op pad om vriende vir ontbyt te kry in Seepunt. In Beach Rd wat dieselfde pad is waarin ons woonstel is. So ons begin sommer stap. Dit kan seker nie te ver wees as dit in dieselfde pad is nie? Ek kry  egter na n rukkie die adres en instruksies per sms van my vriendin en besef dat  “net verby lighthouse op volgende hoek in Greenpoint van julle kant af” nog n verwoede ent ver is! Bykans n dagreis man, en ons besluit summier om n Uberkarretjie te versoek.

Ek plak myself op die Promenade onder n palmboom op die gras neer. So skuins-langs n bergie. Aspris. Sy lê op die gras, op haar maag en druk op haar elmboë. Ek  sien n grondpadgesiggie op die maer lyfie van n harde lewe. n Gesiggie met heelwat erosieslote wat diep oor n paar plekke op haar gesig lelike letselstrepe maak. Ek merk dat sy my ook noukeurig uitkyk. 

Ek groet. Sy groet terug. Hoe gaan dit vanmôre, vra ek. Kan nie klanie –  mag mossie klanie, sê sy. En met, ja-wat-help-kla-tog-niemand-luister-nie, sit ek n geselsie aan die gang. 

Die Uberman is nog 4 minute weg. Haar naam is Su-zin. Nie die Afrikaanse Soe-san nie, die Engelse Su-zin. 

Sy begin gesels en uitvra. Waar kom ek vandaan. Hoee, Jo’burg! Haar outjie het haar mos gelos en toe ook Jo’burg toe weggeloop. Dis hy wat haar al die merke oppie gesig gegee het. Gelike van slat. Nou loop sy alleen. Nee, dit is! Is maar beter lat hy geloop het. Sy kan mossie so aan haar lat slat nie.

Sy slaap hier op die Promenade. Nee, die polieste ken haar goed. Hulle bewaar haar saans. Jitte maar my dogter is mooi. Sy’t ook dogters en kinners en kleinkinners. Nee, sy sallie by hille bly nie, sy’t mos genoeg stres alrieds!  Sy kies die alleenloop. Dié lat sy maar sukkel. Moet alleen kos kry en regkom.

Ek is uitgeslaap, ek ken sawwe woorde wat nou-nou n aalmoes gaan vra. Ek glimlag. Nee sy rook nie. Dié lat sy maar so bietjie tap. Dis waar wat ek daar sê! Die dokter het ook gesê sy moet baie water drink. Dit werk teen die suur wat die wyn in die lyf maak en dan kan kanker nie gegroei kry nie. Die Uberman is amper hier.

Ek weet sy gaan nou begin toeslaan. Ek weet dit, want sy’t al die emosionele woorde gebruik wat sy ken:  kinders, kleinkinders, alleen, kos, sukkel, kanker.  Ek ken dit, ek was mos lank n welsynstannie. Susan sê sy weet ek is n welfare- sy sien dit sommer…

Nou het jy dan nie maar vir my n ietsie nie? kom dit eindelik. Ek het, maar ek is so bang jy suip jouself morsdood met my geld! Hoe moet ek dan voel? Sy lag n oopbek tandlose lag: Nee man, ek gaan juis more dokter toe. En toe lag sy verder en sê: Hoeee, maar ek lieg mos vi hom, ek sê vi hom ek drink net twee boksies wyn n dag!

Ek gee vir haar n R20 noot en terwyl sy hom voor by haar hemp indruk, gaan sy voort…maar hy weet ek lieg vir hom, hy kyk mos my pis!  En toe skater sy vir haar eie grap, so asof sy en die dokter tog so n heerlike gemoedelike verhouding het.  Die Uberman is hier. 

Nou toe Susan, ek loop eers. Sterkte by die dokter more.  Ek ga jou weer sien hoor, gil sy laggend toe ek in die Uberkar klim. Asof ons ou kennisse is.

Ag ek hoop sy is reg.  Dat ons  mekaar weer sal sien.  Dalk eendag, Su-zin…

©️marikavanheerden

45571E06-D4A2-4435-85A5-E42D17DAF731